Senwes dra by tot brandverligting in Boshof




Die mees onlangse brande in die Boshof-distrik het ongeveer 30 000 hektaar weiding verwoes en talle veevrektes en -beserings tot gevolg gehad. Na wat beraam word, is ongeveer 7 000 skape gevolglik sonder weiding gelaat. Skenkings van voer is vanuit talle oorde ontvang, maar hoë vervoerkostes bly ʼn uitdaging.

In reaksie hierop het Senwes, by wyse van Hinterland Fuels, ʼn skenking van 1 000 liter brandstof beskikbaar gestel aan geaffekteerde produsente. Hierdie skenking vorm deel van die groep se AVC Relief Umbrella-projek.

Nood bly groot na onlangse brande

Anders as met die vorige brande wat gedurende Oktober 2020 in dié gebied verwoesting gesaai het, bied die mees onlangse brande ʼn groot uitdaging omdat daar geen onmiddellike vooruitsigte op reën vir die geaffekteerde gebiede is nie. 

Volgens dr Jack Armour, bedryfsbesbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), sal dié vooruitsig nog vir minstens die volgende agt maande voortduur tot daar somerreën val en die veld weer begin groei. ʼn Nagevolg hiervan is dat sommige produsente noodgedwonge van sommige diere ontslae sal moet raak ten einde die kernkudde aan die gang te hou.

Volgens Johan Terblanche, brandbeskermingsbeampte van die Goudveldse Brandbeskermingsvereniging, sê dat hulp van die publiek en die sakesektor al bydraes is wat produsente op die oomblik kry wanneer hulle brandskade ly. Hy vertel dat tot 70 produsente met vuurvegters gehelp het om die onlangse brande te probeer blus en dat hierdie produsente nie vergoed word vir die bluskostes wat hulle aangaan nie. Hierdie uitgawes sluit onder meer in diesel vir voertuie, petrol vir die brandbestrydingstoerusting, lone vir personeel en die vervanging van bakkiebande in. Die tyd wat die produsente verloor terwyl hulle die brande beveg word nie by hierdie berekening ingesluit nie.

Terblanche bereken die brandbluskoste per produsent op gemiddeld van R1 500 tot R2 000 per brand.