Senwes Grainlink – U besigheidsvennoot in landbou




Senwes Grainlink verstaan die produsent se behoefte in hierdie droogtetyd om sy graan so vinnig as moontlik in die mark bekend te stel en sodoende die prysvoordeel maksimaal te benut. Senwes verleen dus verdere ondersteuning aan sy produsente en klante deur geen drogingskoste te verhaal nie, asook deur geen verhoging vir die hanteringskoste van mielies en sonneblom in te stel nie.

Mielies met 'n voginhoud van tot en met 16% is in die verlede hanteer.  Dit is nou verhoog tot 18% sonder enige drogingskoste. Sonneblom met 'n voginhoud van tot en met 12% word tans hanteer, sonder drogingskoste, in vergelyking met die 11% voginhoud van die verlede.

Die inneem van mielies en sonneblom met ‘n hoër vogpersentasie is onmiddellik van krag, maar is net op beperkte hoeveelhede per silo van toepassing.

Een van die voordele van bogenoemde aksie is dat dit die impak van swerms duiwe sal beperk. Dié swerms sak normaalweg toe op veral sonneblomlande wat besig is om af te droog en groot oppervlaktes kan in die bestek van 'n paar dae opgevreet word.

Die hantering van mielies en sonneblom met 'n hoër voginhoud is moontlik gemaak deur ‘n kapitale projek van Senwes wat oor ‘n drie jaar tydperk strek en meer as R100 miljoen beloop.  Hierdie projek fokus op deurlugting en versnelde inname van  graan. Senwes is tans in die tweede jaar van hierdie program.

Verdere voordele met betrekking tot die vroeër stroop van graan sluit in prysbenutting, beperking van fisiese vogverliese asook minder fisiese stroopverliese, wat gesamentlik tussen R50 en R70 per ton kan beloop. Verliese kan drasties wees sou gewasse onnodig lank op die lande gelaat word. Die Amerikaners het bereken dat tot 4% fisiese verliese per maand kan realiseer weens oeste wat te lank op die lande gelos word. In die geval van sojabone en sonneblom kan die verliese katastrofiese gevolge hê weens die oopspring van die peule en/of verliese wat deur voëls veroorsaak word. Verskeie ander agronomiese voordele kan benut word deur gewasse so gou as moontlik te stroop.

Die nuwe tariewe sal vanaf 1 Mei 2016 in werking tree maar produsente sal onmiddellik kan begin om mielies met 'n voginhoud van tot 18% te lewer, sonder drogingskoste, afhangend van beskikbare kapasiteit. Sodra die deurlugtingskapasiteit oorskry word, sal die normale drogingstariewe geld. 

Produsente kan ook nou reeds hul graan op die uitgestelde opbergingsopsie lewer, wat ‘n verdere voordeel vir hulle sal inhou.

Kontak u naaste silobestuurder vir meer inligting.