Senwes help om sprinkaanplaag te bekamp

  • 04 Junie 2021
  • 1770
  • nuus



In reaksie op die sprinkaanplaag wat tans verwoesting saai in die Bultfontein-distrik, het Senwes by wyse van Senwes Grainlink, Senwes Equipment en Agri Credit Solutions ʼn skenking van R64 000 aan die Bultfontein Distrikslandbou-Unie (DLU) gemaak. Hierdie skenking, wat onder die vaandel van die AVC Relief Umbrella-projek plaasvind, is spesifiek geoormerk om met die lugbespuitingsproses te help.

In terme van brandstofverbruik kos dit in die omgewing van R16 000 om ʼn spuitvliegtuig in die lug te hou, en die skenking sal dit vir die Bultfontein DLU moontlik maak om tussen 500 en 600 hektaar te bespuit.

Volgens Vrystaat Landbou (VL) begin die winterkoring in hierdie distrik sprietjies uitsteek, en kan die impak van die sprinkane katastrofiese gevolge inhou. “Die sprinkane dwarrel oral rond en waar hulle ʼn groen kol kry, sak hulle neer en vreet. Ons het hier in Bultfontein nog nooit so iets beleef nie,” sê André van Rensburg, VL se streeksverteenwoordiger.

Sprinkane eet daagliks soveel as hulle eie liggaamsgewig, en in groot swerms kan hulle vernietigend wees vir jong gesaaides of waar nuwe gras in die veld groei. Dit beteken as die swerms nie nou uitgeroei word voor hulle eiers lê nie, kan ʼn ramp in die lente op Vrystaatse saaiboere wag.

Van Rensburg sê die vrees bestaan dat die sprinkane sal begin om eiers te lê. Hy verduidelik dat die sprinkane uit Namibië en die Kalahari kom en dat daar nie wydverspreide gewasse voorkom soos in die Vrystaat nie. “Ons gaan dit nie regkry as ons miljoene 1 cm-lange sprinkaantjies uit ons mielie-, soja- of sonneblomlande moet hou as dit weer begin reën nie.”

Meer oor die AVC Relief Umbrella-projek

Rampe en teenspoed hou nie kantoor-ure nie, dit vra nie uit oor jou straatadres óf hoe groot jou bankbalans is nie. Inteendeel, dit gebeur dikwels sonder waarskuwing en as dit doen, raak dit almal van ons – meer nog as dit die bedrywighede van die landbouwaardeketting bedreig.

Met dié realiteit in gedagte is die Senwes Groep van maatskappye verbind tot die volgehoue ondersteuning van klante en gemeenskappe wat gebuk gaan onder uitdagings soos onder meer natuurrampe en humanitêre-nood, soos wat die geval is tydens die Covid-19-pandemie.

Hulpverlening en noodleniging in hierdie verband vind plaas onder die vaandel van die AVC Relief Umbrella-projek, en volgens Francois Strydom, Groep Hoof Uitvoerende Beampte, het dié projek dit ten doel om mense met hulp én hoop by te staan. “Om ʼn verskil in mense se lewens te maak, is die hoogste eer,” sê Strydom.

Die projek, wat in Mei 2020 geloods is, is juis so ontwerp dat dit noodleniging aan kwesbare gemeenskappe op verskillende vlakke kan fasiliteer.

Vir meer inligting oor die AVC Relief Umbrella-projek besoek www.senwes.co.za