Stewige nampo-bywoning wys landbouers het nog hoop




Dit is die mening van Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, na afloop van die organisasie se 52ste NAMPO Oesdag wat die afgelope week suksesvol aangebied is. Volgens die kaartjieverkope het 82 817 besoekers deur die hekke gestroom om die 746 uitstallers te besoek en die familie-atmosfeer en plaasgasvryheid wat so eie aan die Oesdag is, saam te kom geniet. NAMPO Park se privaat vliegveld het 361 ligte vliegtuie en helikopters – wat ‘n verskeidenheid van besoekers daar besorg het – met gemak hanteer.
 
“Die groeiende belangstelling in die NAMPO Oesdag is bemoedigend en dit bewys dat die landbou nog lewendig en aan die gang is. Aan elke uitstaller, besoeker en personeel, baie dankie dat julle die geleentheid saam met ons kom geniet het en saam kom skryf het aan die NAMPO-storie. ʼn Persoonlike hoogtepunt van elke NAMPO is om verskeie mense te ontmoet, te gesels en verhoudinge te bou. Daardie verhoudinge vestig die hoop waarop landbou gebou is.
 
“Dit is ook opmerklik dat die aantal nie-landboubesoekers en talle mediaverteenwoordigers van buite die landboumedia toegeneem het. Uit formele en informele gesprekke is dit duidelik dat hulle ook NAMPO toe kom omdat dit vir hulle lekker is. Die groeiende belangstelling van swart boere in die skou is ook vir Graan SA ‘n definitiewe pluspunt,” het De Villiers gesê.
 
Buitelandse uitstallers se belangstelling in NAMPO as ‘n platform om die res van Afrika te bereik, duur voort. Nagenoeg 76 internasionale uitstallers is gehuisves in agt buitelandse pawiljoene – wat elk ten minste agt uitstallers van hul land deel gemaak het van hul uitstallings. Verteenwoordigers van Israel, Pole, Engeland, Amerika, Argentinië, Indië, Frankryk, Italië, Denemarke, China, Turkye en Rusland het aan die Oesdag deelgeneem.
 
Graan SA poog deurlopend om NAMPO se uitsluitlike fokus op die landbou te behou. Die seleksie van uitstallers en die items op die program word getrou hiervolgens gerig. Vanjaar het die Nasie in Gesprek-forum ‘n sterk bydrae tot die gronddebat gelewer. In pas met die 30ste jaar wat die Boerepatentekompetisie aangebied is, het Graan SA en Omnia die tydskrif, Landbouweekblad, as bykomende vennoot verwelkom.
 
Die swak toestand van verskeie openbare paaie in die omgewing van NAMPO Park is kommerwekkend. Dit plaas geweldige druk op sekere roetes en kortwiek die bestendige vloei na en van die skouterrein.
 
Die breë landboufamilie van die Wes-Kaap kan uitsien na NAMPO Kaap – wat van 12 tot 14 September 2018 op Bredasdorp in die Wes-Kaap in samewerking met Graan SA aangebied word. Dié handel- en vee-ekspo is daarop gemik om ʼn basis te skep as landbou-inligtingverskaffer, markplek, netwerkgeleentheid en bymekaarkomplek vir almal wat belang het by landbou in die streek. Inligting oor NAMPO Kaap is beskikbaar deur die www.nampo.co.za webtuiste.
 
Aanstaande jaar se NAMPO Oesdag is reeds geskeduleer vir 14 tot 17 Mei.

Further enquiries:
Toit Wessels, Assistant Manager: NAMPO & Marketing, Grain SA