Strategie die fokus van Senwes en TymeBank gespreksessie




Dié drie-ledige strategiese fokus was maar een van die onderwerpe wat bespreek is tydens ʼn onlangse virtuele gespreksessie tussen verteenwoordigers van die Senwes bestuurskorps en Jonker. Ander areas waarop daar gefokus is, sluit in die ontstaan en gevolglike suksesverhaal van TymeBank, geleenthede vir innovasie en besigheidslesse wat uit die Covid-19-pandemie geleer kan word.

Meer oor TymeBank

In die twee jaar sedert die amptelike bekendstelling van TymeBank in 2019, spog Suid-Afrika se eerste digitale bank reeds met 3,2 miljoen kliënte. Dié getal word maandeliks deur ongeveer 140 000 nuwe lede aangevul. Die bank word voorts met slegs 120 personeellede bedryf.

Dié fenomenale groei is volgens Jonker te danke aan die bank se innoverende digitale grondslag en hul uitgebreide netwerk van vennootskappe. Jonker verduidelik dat desondanks die feit dat Suid-Afrika ʼn volwasse banksektor het, ons bankgelde van die hoogste ter wêreld is terwyl tevredenheidsvlakke onder kliënte baie laag is. Hierdie realiteit skep gevolglik groot geleenthede vir mededingende banke en innoverende denkers soos in die geval van TymeBank.

Jonker verduidelik dat alle aktiwiteite van die bank op toeganklikheid gerig is en dat hierdie toeganklikheid op drie vlakke plaasvind, naamlik fisiek, finansieel en emosioneel.

Danksy TymeBank se vennootskap met Pick n Pay en Boxer is TymeBank baie meer toeganklik as sy mededingers. “Ons het effektief elke betaalpunt van hierdie winkels landswyd in ʼn teller omskep. Dit kom neer op meer as 14 000 betaalpunte wat verbruikers vir onttrekkings en deposito’s kan inspan,” sê Jonker en voeg by dat ʼn verdere 500 TymeBank-kiosks landswyd, ʼn webblad en ʼn toep verder tot toeganklikheid bydra.

Die bank se eenvoudige prysmodel dien as ʼn verdere trekpleister en op die oomblik is TymeBank se spaarrekeninge van die mees mededingende in die land terwyl dit ook die goedkoopste transaksionele finansiële dienste aan kliënte bied.

Die waarde van vennootskappe

Volgens Jacobs beskik Suid-Afrika oor heelwat “spesialis spelers” in die besigheidsomgewing en is dit belangrik om hierdie spelers te identifiseer en na hulle uit te reik met die oog op toekomstige samewerkingsgeleenthede.

“Ons moet besef dat ons nie altyd met hierdie spesialiste moet kompeteer nie, maar eerder die ongelooflike geleenthede benut wat vennootskappe inhou,” verduidelik Jonker en voeg by die vennootskap met kleinhandelaars soos Pick n Pay en Boxer een van die bank se grootste suksesverhale is. “Terwyl dit ander banke jare of dekades geneem het om tak-netwerke en infrastruktuur op te bou, het dit vir ons basies oornag gebeur omdat ons vennote klaar ʼn netwerk van winkels gehad het wat ons kon inspan,” sê Jonker.

Besigheidslesse tydens die Covid-19-pandemie

Beide Jonker en Francois Strydom, Groep Hoof Uitvoerende Beampte van Senwes, is dit eens dat die Covid-19-pandemie innovasie aangewakker het op ʼn skaal wat nog nie voorheen gesien is nie.

Die twee sakeleiers stem ook ooreen dat ten einde innovasie en gevolglike groei te handhaaf, ʼn nuwe manier van dink én doen vereis, veral in terme van besigheidsbestuur. Dit sluit in die omarming van nuwe tegnologie, outomatisering van prosesse en die skep van ʼn korporatiewe kultuur waarin innovasie en vernuwende besigheidspraktyke aangemoedig en ondersteun word.

Jonker en Strydom het die volgende lesse en besigheidsbeginsels tydens die gesprek gedeel:

  • Die waarde van strategiese vennootskappe moet nooit gering geskat word nie.
  • Die strategiese belegging in en aanwending van inligtingstegnologie (IT) kan die verskil tussen sukses of ondergang in die besigheidsomgewing beteken.
  • Suksesvolle besighede praat nie net oor hul besigheidsfilosofie nie, maar lééf dit elke dag.
  • Besigheidsukses berus op goeie en betekenisvolle menslike interaksie, ongeag van die sektor waarin daar besigheid gedoen word.
Jonker het die gesprek afgesluit deur te sê dat verandering voortaan al hoe vinniger gaan gebeur en dat daar oor die bestek van die volgende tien jaar meer verandering sal plaasvind as in die laaste tien jaar.