Verbruikers kook, eet en koop anders tydens pandemie

  • 08 April 2021
  • 1658
  • nuus



Volgens Alice Rui, ʼn senior navorsingsbestuurder by Ipsos, soek verbruikers benewens gesonde, natuurlike opsies ook meer inligting oor die voedsel wat hulle koop en verbruik. Dié verandering in verbruikersvertroue bring mee dat aspekte soos voedselveiligheid en die manier waarop voedsel verbruik word al meer onder die vergrootglas geplaas word.

Globale verbruikersindeks en voedselveiligheid

Die globale verbruikersindeks het volgens Rui op ʼn jaargrondslag, sedert Januarie 2020, met 5,2% afgeneem. Die goeie nuus is egter dat dié indeks vanjaar reeds toegeneem het, wat daarop dui dat verbruikers meer optimisties is oor die toekoms. 

In terme van voedselveiligheid, is verbruikers veral bekommerd oor die higiëne en sanitasieprosedures wat deel uitmaak van die verwerking, vervoer en voorbereiding van kos. Hulle is voorts ook bekommerd oor die moontlikheid van die oordrag van die virus tydens die hantering van voedsel en verpakking. 

Luidens die Ipsos-navorsingsbevindinge het 60% van verbruikers aangedui dat hulle verkies om eerder tuis te eet as om uit te gaan. In die lig hiervan het die vraag na wegneemkos en die tuisaflewering van kos wêreldwyd toegeneem. 

Altesaam 43% van deelnemende verbruikers het aangedui dat hulle meer aanlyn aankope doen as voor die aanvang van die pandemie.

Impak op die voedselwaardeketting

Volgens Rui is dit belangrik dat rolspelers binne die voedselwaardeketting meer klem moet lê op die gesondheidswaarde van produkte, wat spesifiek gemik is op die gesondheidskwellinge wat verband hou met verbruikers se hedendaagse lewe. Dit is veral van toepassing op natuurlike produkte, wat spreek tot ʼn gesonde en meer volhoubare dieet. 

Deursigtigheid binne die voedselproduksiesiklus is ook baie belangrik omrede verbruikers bereid is om meer te betaal om voedselveiligheid te verseker.