Virtuele jaarkongres vir Graan SA

  • 26 Februarie 2021
  • 1604
  • nuus



Die bespreking van die eenmalige Covid-19-heffing sal hoog op die agenda wees. Dié inisiatief sal poog om die impak van die Covid-19-pandemie se inperkingsregulasies op die organisasie se vermoë om onder meer die Nampo-oesdag, wat ʼn baie belangrike inkomstebron vir Graan SA is, te kan aanbied.

Die doelwit met die heffing is om die organisasies se reserwes met R10 miljoen aan te vul ten einde te verseker dat sy werksaamhede effektief kan voortgaan. Volgens Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, het die organisasie ʼn verlies van R17 miljoen aangeteken weens die feit dat die oesdag nie gedurende 2020 op Bothaville aangebied kon word nie.

In die lig hiervan meen Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, dat produsente daartoe kan bydra dat die organisasie in staat gestel word om sy doel te kan dien. “Die besluit om die heffing inwerking te stel is nie ʼn besluit wat deur die bestuur, personeel of leierskap geneem kan word nie, dit sal deur lede op die kongres bepaal word,” sê Mathews. Hy nooi voorts alle lede van die organisasie om hul streekverteenwoordigers te kontak as hulle die kongres wil bywoon.

Ander besprekingsonderwerpe sluit in ʼn vergelykende studie oor graanmarkte en die geloofwaardigheid van graanmarkte. Hierdie onderwerpe sal deur Justin Choe van die World Agricultural Outlook Board en dr Johan Willemse aangebied word.