Werkers in die landbousektor nie onaangeraak deur virusperiode

  • 20 November 2020
  • 2049
  • nuus



Volgens die Landbousakekamer, Agbiz, is dit belangrik om kennis te neem dat hoewel die grootste meerderheid van die sektor sedert die begin van die inperkingstydperk aktief was, die sektor nie werkverliese kon vryspring nie aangesien die vraag na sekere produkte vir ʼn tydperk onderbreek is.

Streeksperspektief

Vanuit ʼn streeksperspektief is die impak van die koronaviruspandemie en die gepaardgaande inperkingsregulasies duidelik sigbaar.

Die Wes- en Noord-Kaap, as die belangrikste wynproduserende streke in die land, is die hardste getref in terme van werkverliese. Op ʼn kwartaal-tot-kwartaal grondslag het dié streke inkrimpings van onderskeidelik 31% en 15% ervaar. As dié statistiek op ʼn jaar-tot-jaar grondslag vergelyk word, dan het indiensneming in die twee streke met onderskeidelik 37% en 8% gedaal. In terme van die Wes-Kaap verteenwoordig dit die laagste indiensnemingsvlak sedert die laaste kwartaal van 2014.

Ander provinsies wat ʼn inkrimping in indiensmeningsyfers getoon het, op ʼn vergelykende kwartaal-tot-kwartaal grondslag, sluit in Noordwes en die Vrystaat. Die Oos-Kaap, Gauteng, Mpumalanga en Limpopo het ʼn toename in indiensneming binne die landbousektor getoon, in vergeleke met dieselfde tydperk in 2019.

Die stand van die landboumark

Agbiz skryf die toename in indiensnemingsyfers in bogenoemde provinsies toe aan verhoogde boerdery-aktiwiteite in byna alle subsektore (soos tuinbou, veldgewasse en vee).

Nie net het die land sy tweede grootste graanoes in die geskiedenis aangeteken nie, maar daar is voorts ook ʼn goeie vrugte-oes gelewer terwyl die sitrusbedryf ʼn bloeitydperk beleef. Laasgenoemde verwys onder meer na die styging van 13% in beskikbare voorraad, op ʼn jaargrondslag, vir uitvoermarkte.

In terme van produksie, het die sagtevrugtebedryf – en meer spesifiek appels en pere, met onderskeidelik 5% en 1% toegeneem op ʼn jaargrondslag. Die veebedryf as subsektor het ook goed herstel.

Toekomsfokus

Alle aanduidings bestaan dat die landbousektor gereed is vir ʼn goeie jaar, veral gegewe die teenwoordigheid van ʼn La Niña-weerstoestand. Gevolglik sal indiensnemingsvlakke na verwagting bo die vlak van 750 000 wees.