Wintergraanheffings | Meer as R20 miljoen reeds ingesamel

  • 08 Oktober 2021
  • 1168
  • nuus



Georganiseerde landbou moes dié heffing instel toe die Nasionale Landboubemarkingsraad nie die bedryf se aansoek vir die voortsetting van die statutêre heffings met sekere voorwaardes betyds wou aanbeveel nie. Ten einde die funksionering van die graanlaboratorium (SAGL), die graaninligtingsdiens (Sagis) en verskeie navorsingsprojekte te verseker is die heffing as ʼn alternatiewe stelsel ingestel.

Leon du Plessis, administrateur van die Suid-Afrikaanse wintergraan-bedryfstrust (SAWCIT), sê dat ʼn voorlopige raming ʼn insamelingskoers van tussen 40% en 50% toon vir koring. Hoewel die seisoen reeds op 30 September geëindig het, word heffingsgeld steeds inbetaal. Volgens Du Plessis was die aanvanklike mikpunt om by minstens 50% uit te kom, maar vanweë die verwarring wat steeds in die mark voorkom oor die vrywillige heffings, is dié syfer laer.

Ten einde produsente gewoond te maak aan die heffing is daar besluit om dit vir die volgende seisoen voort te sit teen dieselfde heffingsbedrae van R14,50 per ton vir koring en gars en R6 per ton vir hawer. Dié bedrag is dieselfde as wat dit sou wees indien dit ʼn statutêre heffing sou wees.

Volgens Du Plessis is daar, wat koring betref, ses nuwe aansoeke om finansiering van projekte, terwyl voortgesette finansiering vir 38 bestaande projekte aangevra is. In die geval van gars is daar drie nuwe aansoeke en ses bestaande projekte.