Wynbedryf bekommerd oor derde verbod op alkohol

  • 08 Januarie 2021
  • 2052
  • nuus



President Cyril Ramaphosa het dié verbod op 28 Desember 2020 aangekondig, toe die nasionale staat van inperking na ʼn aangepasde vlak 3 verander is.

Die verbod verbied die plaaslike verkoop van alkohol vir tuisverbruik en in restaurante, kroeë en wynproe-lokale. Alkohol mag ook slegs vervoer word vir uitvoere, na ʼn gelisensieerde perseel vir berging en vir die produksie van handreinigers, ontsmettingsmiddels, alkohol vir nywerheidsgebruik en huishoudelike skoonmaakprodukte.

Verbod berokken matelose skade

Volgens ʼn verklaring wat deur die wynbedryforganisasie Vinpro, uitgereik is, deel die sektor die President se kommer oor die skielike en vinnige groei in die getal positiewe Covid-19 gevalle en verwante sterftes en is daar begrip vir die noodsaaklikheid vir drastiese stappe om die tweede vlaag infeksies aan te spreek. Die organisasie se bestuurshoof, Rico Basson, sê egter hy is teleurgesteld en uiters bekommerd oor die algemene beleidsbenadering met betrekking tot die verkoop van alkohol wat deur die regering geneem is.

Basson verduidelik dat die verbod, wat al twee maal te vore ingestel is, reeds verskeie ondernemings in die wynbedryf vernietig het en tot beduidende werksverliese gelei het. Tot op hede beloop die bedryf se verlies aan inkomste reeds meer as R7,5 miljard. As gevolg van die verbod het die bedryf nou ook meer as 250 miljoen liter ongekontrakteerde wyn. “Hierdie situasie en die derde verbod gaan matelose skade aan die wynbedryf én die 290 000 individue wat hul lewensbestaan uit die bedryf maak, berokken,” sê Basson.

Ander voorstelle op die tafel

Basson sê alhoewel die bedryf se 553 wynplase proaktief voorkomende maatreëls ingestel het om werknemers en besoekers op plase te beskerm, trek wynplase nou aan die kortste end in die besige toerismeseisoen vanweë die algemene beleidsbenadering wat gevolg word, die gedrag van die algemene publiek en die feit dat Covid-regulasies nie nagekom word nie.

“In teenstelling met ʼn algehele verbod op alkohol het die bedryf voorstelle ingedien wat alternatiewe ingrypings insluit om risiko’s te verminder en formeel met die regering in gesprek te tree. Dit is jammer dat hierdie voorstelle nie in die finale regulasies opgeneem is om sodoende ʼn gedifferensieerde benadering te verseker nie,” sê Basson. Dit is ons siening dat beperkings op wynverkope op ʼn minder skadelike manier ingestel kan word, wat die effek op die gesondheidstelsel kan verlig, die verspreiding van die virus kan help verminder, én mense se lewensbestaan kan beskerm.

Lesse geleer

Basson sê van die lesse wat in vlak 5 en 4 se inperkings geleer is, is dat ʼn verbod groei in sluikhandel aanwakker. Omdat hierdie sluikhandel buite die regulatoriese reik van die regering is en grootliks ongekontroleerd plaasvind, het dit tot verwoestende gevolge vanuit ʼn gesondheid- en ekonomiese oogpunt gelei.

* Vinpro, in samewerking met die res van die alkoholbedryf, versoek die regering om deursigtig te wees oor die stand van die gesondheidstelsel om die verbod op kleinhandel- en op-perseelverbruik so gou moontlik te hersien. Vinpro raai elke wynverwante onderneming aan om hul deel te doen en nou saam te werk om te verseker dat die aantal nuwe gevalle van Covid-19 afplat sodat die bedryf weer op 15 Januarie 2021 handel kan begin dryf.