Beurtkrag: Landboukrisis dreig

  • 13 Desember 2019
  • 4194
  • press-release



“Die jongste rondte beurtkrag kom op ’n besondere besige tyd vir produsente en landboubesighede.”
 
Beurtkrag het ’n negatiewe impak op energie-intensiewe en besproeiing-afhanklike bedrywe van landbou, regdeur die hele ketting vanaf plaashek tot in die verbruiker se huis. Handhawing van die koue-ketting is krities om kwaliteit van voedsel en rakleeftyd te verseker.
 
Die tafeldruiwe en varsproduktebedrywe is spesifieke voorbeelde waar beurtkrag in die spitsseisoen ernstige gevolge vir die landbou inhou.
 
“Alle pakhuise en koelkamers is afhanklik van elektrisiteit,” sê Willem Bestbier, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Tafeldruiwe Industrie (SATI), ‘n lid van Agri SA se Bedryfskamer. “Die produk is hoogs bederfbaar, en handhawing van die koue-ketting en ’n lae-temperatuur-regime vorm deel van formele en wetlik bindende internasionale fitosanitêre maatreëls. Temperatuur-onderbrekings in die fitosanitêre verskepingsprotokol kan produkte vir uitvoerdoeleindes diskwalifiseer. Pakhuise is uiters arbeidsintensief en duisende werksgeleenthede en bruto-uitvoerverdienste van meer as R7 miljard op plaasvlak is onmiddellik in gedrang.”
 
“Vrugte is tans in verskillende rypwordingsfases en optimale waterbestuur is krities,” sê Jacques Jordaan, die uitvoerende hoof van die Inmaakvrugte Produsente Vereniging  (IVPV), ’n lid van Agri SA se Bedryfskamer. “Kragonderbrekings het ’n direkte impak op die waterbestuurpraktyke in boorde en watertekorte kan in baie gevalle nie later reggestel word nie. Gevolglik word kleiner vrugte geproduseer wat 'n verlies aan inkomste vir die hele waardeketting inhou.”
 
Verder kan beurtkrag ook ’n negatiewe effek hê op BBP-groei, soos ons vroeër vanjaar gesien het. In ag genome Eskom se onlangse RCA-tariefaansoek (R27 323 miljoen), is die las van beurtkrag selfs meer onaanvaarbaar.
 
“Ekonomiese groei en werkskepping vir alle Suid-Afrikaners is uiters belangrik,” sê Jansen.
 
Landbou is bereid om saam met die regering te werk om planne te implementeer tot voordeel van die Suid-Afrikaanse ekonomie.
 
“Ons het ‘n verskeidenheid groenkragoplossings vir die energiekrisis in Suid-Afrika en sal graag wil sien dat Eskom saam met ons werk om die energievoorsieningsnetwerk te diversifiseer met onder andere son- en windenergie” sê Jansen.
 
Dit is in belang van die hele land om die energiekrisis in die kort-, medium- en langtermyn op te los. 
 
Navrae:
Nicol Jansen
Voorsitter – Agri SA Sentrum van Uitnemendheid: Ekonomie en Handel
(S) 082 948 2629
 
Willem Bestbier
Uitvoerende Hoof: SATI
(S) 083 269 0580
 
Jacques Jordaan
Uitvoerende Hoof: Inmaakvrugte Produsente Vereniging
(S) 082 577 8476