Hoe mededingend is die Suid-Afrikaanse sojaboon bedryf?




Die doel van die heffing is om saadmaatskappye aan te moedig om nuwe kultivars met gevorderde saadtegnologie in die plaaslike mark beskikbaar te stel. Suid-Afrikaanse sojaboon-produsente plant tans hoofsaaklik saad wat hulle van vorige seisoene teruggehou het. Die Suider-Afrikaanse Saad Organisasie (SANSOR) beraam dat die terughouding van saad deur produsente so hoog as 80% is in die geval van sojabone.

Dit is wêreldwyd ‘n erkende praktyk om sogenaamde oopbestuifde gewasse se graan as saad vir eie gebruik terug te hou. Die nadeel hiervan is egter dat werklike saadverkope relatief min is en 
dus is dit nie vir saadmaatskappye lonend om in nuwe kultivar-ontwikkel te belê nie. 

Die hoë saadterughouding veroorsaak dan dat ons sojaboonbedryf agter raak en dat ons baie moeilik in ‘n hoogs kompeterende mark sal kan funksioneer. Dit neem tot ‘n dekade se navorsing en saadteling asook kostes van etlike miljoene rand om een verbeterde kultivar te ontwikkel. Indien saadtelers nie goeie verkope kan verwag nie, sal hulle huiwerig wees om hierdie kostes aan te gaan.  

Volgens die Buro vir Voedsel en Landboubeleid (BFAP) ding plaaslike produsente mee met internasionale sojaboon-produsente soos Amerika, Brasilië en Argentinië, waar opbrengs per hektaar die afgelope dekade met tot 1,5% per jaar verbeter het. In Suid-Afrika het opbrengs oor dieselfde tyd egter met skaars 0,4% per jaar verbeter. Een van die belangrikste redes hiervoor is die behoefte aan nuwe kultivars en bio-tegnologie. 


Gemiddelde opbrengs per hektaar in Amerika is byvoorbeeld rondom 3,5t/ha, terwyl dit in Suid-Afrika minder as 2.0 t/ha is (Figuur 1). Die plaaslike gemiddelde sojaboon-opbrengs oor die afgelope 20 jaar is 40% laer as die gemiddelde opbrengs van die drie hoofproduserende lande.

Die vraag na proteïene neem wêreldwyd toe en sojabone is ‘n reuse komponent van dierevoeding, maar ook vir menslike gebruik. 


Sojaboon-aanplantings in Suid-Afrika het skerp oor die afgelope 50 jaar gestyg, van minder as 10 000 ha tot 787 000 ha in 2017/2018 (sien Figuur 2). Belegging in perskapasiteit en die bevordering van die voordele van sojabone as wisselbougewas het meer produsente oorreed om dit by hul boerdery in die somersaaigebiede in te sluit. 

In 2017 het sojabone die aanplanting van sonneblomme verbygesteek as die tweede grootste somergewas, in terme van die area wat aangeplant is. BFAP beraam dat Suid-Afrika tot een miljoen hekaar sojabone binne die volgende vyf tot tien jaar sal aanplant. 

Die tegnologieheffing wat op 1 Maart in werking tree word deur die Suid-Afrikaanse Teling- en Tegnolgie Agentskap (SACTA) ingevorder en bestuur. Dit is betaalbaar op die eerste verkoop van sojabone wat in Suid-Afrika geproduseer is, ongeag die graad daarvan. 

SACTA is ‘n nie-winsgedrewe maatskappy wat die heffing invorder, en aan saadmaatskappye – volgens hul markaandeel – uitbetaal as gewaarborgde vergoeding vir hul belegging in gevorderde saadtegnologie. 

Die heffing is geldig van 1 Maart 2019 tot 29 Februarie 2020. Daarna verhoog die heffing tot R80 per ton tot en met 28 Februarie 2021. 

Vir meer inligting kontak Gert Heyns, uitvoerede hoof van SACTA by 082 388 0211. Webtuiste: www.sactalevy.co.za