Nat November en Desember voorspel

  • 30 Oktober 2020
  • 2420
  • nuus



Johan van den Berg, ʼn onafhanklike landbouweerkundige, verduidelik dat geskiedkundige gegewens nie op ʼn duidelike begindatum vir die reënvalseisoen vir La Nina-stelsels dui nie. Hy sê hoewel dit in sommige La Nina-seisoene minder gereën het, was daar in die meeste seisoene met ʼn mediumsterk tot sterk La Nina-stelsel ten minste gemiddelde reënval.

Die meeste weermodelle voorspel, volgens Johan, dat die La Nina-stelsel sy spits in Desember sal bereik, met die helfte van die modelle wat ʼn sterk stelsel voorspel. Volgens die Australiese buro vir meteorologie sal Australië bogemiddelde reënval vanaf November tot Januarie 2021 ontvang, soortgelyk aan die reënval wat vanaf 2010 tot 2012 voorgekom het. Dit voorspel voorts gunstige vooruitsigte vir Suid-Afrika, wat op dieselfde breedtegraad lê.

In ʼn onderhoud met Landbou.com voorspel Johan, gegewe die beskikbare weermodelle, dat die reënseisoen in die volgende gebiede soos volg kan begin:

  • Die oostelike somergraanproduksiegebiede en opvanggebied van die Vaaldam: vanaf die begin van November.
  • Westelike somergraanproduksiegebiede en gebiede waar brande groot skade aangerig het: vanaf die middel van November.
  • Sentrale tot westelike dele van die Noord-Kaap, waar die droogte steeds ernstig is: van die middel tot die einde Desember af.
  • In die Oos-Kaap, waar water vir besproeiing en vir menslike gebruik kritiek laag is: van middel November af.